Veilige kerk, veilige kinders veldtog

Hierdie veldtog is saamgestel deur DinkJeug (die Jeug en Familie Diensgroep van die NG Sinode van Wes-Kaapland) asook Little Seeds Eenheid vir VKO (‘n program van Badisa). Die doel daarvan is om vir Kinderbeskermingsweek (gewoonlik elke jaar einde Mei/begin Junie) die gesprek aan die gang te sit in gemeentes oor die veiligheid van kinders en tieners in gemeentes se ruimtes en byeenkomste.

 

Gebruik die “Veilige Kerk, Veilige Kinders” veldtog om bewussyn te verhoog, gesprekke te voer en waardes te vestig in die gemeente:

 

 

Nog wenke vir gemeentes:

  1. Gesels gereeld in die kerkraad en leierskap van die gemeente oor die kinderveiligheid van die gemeente en hoe ‘n beleid gevestig kan word. Gesels ook oor die kultuur van die gemeente en die onderliggende teologie.
  2. Maak seker alle volwassenes wat met kinders werk (vrywilligers by die kategese ens.) asook ouers weet wat die protokol is vir veilige en opbouende persoonlike gesprekke, ook aanlyn.
  3. Maak ook seker dat alle ouers en leiers weet hoe, waar en wanneer om moeilike gesprekke te hanteer asook kinders / tieners te verwys en hoe hulle waarskuwingstekens van mishandeling en misbruik kan herken.
  4. Laat alle vrywilligers die Volwasse Verklaring onderteken.
  5. Vereis dat alle personeel in diens van die gemeente ‘n bevestiging lewer dat hulle nie op die National Register for Sexual Offenders verskyn nie. Individue kan self die bevestiging aanvra deur Vorm 30 te voltooi en na CPRenquiries@dsd.gov.za (die kontak nommer is 012 312 7554) te stuur. Werkgewers kan namens al die personeel bevestiging aanvra deur Vorm 29 hiervoor te gebruik en stuur aan CPRenquiries@dsd.gov.za (die kontak nommer is 012 312 7554)
  6. Kry so gou moontlik ‘n maklike sisteem in plek om seker te maak alle leiers en vrywilligers wat met kinders / tieners werk (direk of indirek) is nie op die NRSO (National Register for Sexual Offenders) Vra die plaaslike kinderbeskermings-organisasie om hiermee te help, aangesien die proses andersins duur en tydsaam kan wees.
  7. Plak noodnommers op vir kinders en tieners bv. in badkamers.
  8. Verhoog die beligting en sekuriteit van die perseel.
  9. Werk saam met die maatskaplike diensorganisasies en skole se projekte, veldtogte en netwerke. Hoor ook wat ander gemeentes reeds doen in julle ring of streek.
  10. Gesels met almal, ook kinders, oor waardes soos insluiting, persoonlike grense, en opbouende gesprekke (ook aanlyn-gesprekke) en hoe dit prakties uitgevoer word.